
Anchien Troskie se boek Dis ek, Anna het onlangs haar vyf-en-twintigste druk beleef. Die roman vertel die verhaal van Anna Bruwer, of “Stom Anna”, wie se stiefpa haar diepste menswees oor ’n tydperk van agt jaar aangetas het, en hoe sy uiteindelik ánderkant uitgekom het. Die storie is vir die eerste keer in 2004 onder die skuilnaam Elbie Lötter uitgegee. Troskie het haar identiteit in 2008 bekendgemaak, en in 2012 is die opvolg Die staat teen Anna Bruwer onder haar eie naam gepubliseer. Die twee boeke is tot film verwerk en Dis ek, Anna het in 2015 op die silwerdoek verskyn. In Troskie se jongste roman Die laaste kanariegeel notaboek is Mia Steyn nog bloedjonk wanneer haar broer haar een laatmiddag by ’n losieshuis in Bloemfontein aflaai om haar eie potjie te krap. Sy word as boekwinkelassistent aangestel, en kort voor lank vind sy haar voete, én verloor sy haar hart – op die beroemde skrywer Louis Feldtsmann. Dis ’n roman oor die geheime tussen ’n ma en haar twee dogters, ’n man en sy vrou, en die leser besef: Niks is ooit soos dit op die oppervlak lyk nie.