
Twee krimi-skrywers gesels oor hul jongste spannende misdaadrillers: In Chris Karsten se Die keiser se duim is twee private ondersoekers, Ella Neser en Lou Pepler, onderskeidelik op pad na België (romantiese redes) en Hongarye (om twee vermiste wynboere op te spoor). Iewers duskant die Donaurivier regeer daar ’n mafioso met die mag van ’n keiser, en ’n donker reis wag op die twee gesoute speurders van Linden, Johannesburg… In Sidney Gilroy se Bloedsomer is die voormalige stasiebevelvoerder op Parys (Vrystaat), Petunia Moraleng, haar rang kwyt. Sy word oorgeplaas na Mooibaai, waar die bedompige klimaat soos ’n tronksel voel. Speursersant JP Hendriks, aan wie sy deesdae rapporteer, toon boonop nie ’n greintjie simpatie nie. Een Vrydagoggend in Desember vang ’n vakansieganger met sy hommeltuig se kamera ’n afgryslike toneel vas. Minder as 24 uur later word ’n foto van nóg ’n slagoffer iewers in ’n stegie van die onderdorp soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, en Petunia en JP bevind hulself oornag as die hoofondersoekers in ’n duistere moordsaak.